Jongste Nuus

Fliek-premiere 'n reuse-sukses

Die Wêreldpremiere van die nuwe Afrikaanse romantiese komedie 'Jakhalsdans' op 27 Februarie - ten bate van die 'Ek Lewe Trust' - was 'n klinkende sukses.

Vyfhonderd fliekgangers, die sterre Theuns Jordaan, Elizma Theron, Christina Storm, Janke Bruwer, Chris Madjiet en Mattie Jooste, die regisseur Darrell Roodt, die vervaardigers Anton Ernst en Diony Kempen, die borge, almal was daar - om nie eens te praat van Amore Bekker, Huisgenoot, KykNet se Kwêla en fliekresensent Leon van Nierop nie.

Die premiere is gehou op die groen, uitgestrekte grasperk van die plaas Jakhalsdans, die inspirasie agter die fliek se titel.

(Foto bo: Theuns en Elizma saam met drie bewonderaars, Suné, Mia en Dané Meyer, na afloop van die premiere.)

Met hul aankoms het gaste elkeen 'n mandjie eetgoed, heerlike rooi- en witwyn, en later roomys gekry. Dit alles moontlik gemaak deur 'n lang lys borge, wat onder meer vir Kuki Botha en Hennie De Jager van Karoo Netwerk, Nestlé, Clover, Mike Manfeldt van Ola en Magnum, André Engelbrecht van Riebeek Cellars, KVB, kunstenaar Mariaan Vorster, Conrad Nel van Loxton Herstelwerke, Anton Ernst van Makadi Entertainment, RSG, en die restaurante die Rooi Granaat en die Blou Huis insluit.

(Foto regs: Elizma Theron se ouma Babie en haar ouers, Jo en Elmarie.)

Amore Bekker van RSG het verrigtinge aan die gang gekry met 'n verwelkoming, waartydens Elizma 'n bos blomme aan organiseerder en trustee Nicolette van den Heever oorhandig het. Daarna het Neil Sandilands bedankings gedoen. Neil was in Los Angeles en het spesiaal 'n kort film geskiet (onder die Hollywood-kenteken) en met die Internet aangestuur sodat dit by die premiere gewys kon word.

Foto regs: Christina Storm saam met Loxton-skrywer en sakeman Steve Moseley.

Foto regs: Theuns Jordaan saam met sy pa Willie na afloop van die premiere.

Foto regs: Akteurs Chris Madjiet en Mattie Jooste saam met bewonderaar Konstanz de la Querra.

Foto regs: Filmredigeerder Ronelle Loots, medevervaardiger Christianne Bennetto, en regisseur Darrell James Roodt.

 

Ten bate van Loxton se kinders

Die volle opbrengs van dié heerlike aand het gaan aan die 'Ek Lewe Trust.

Om lewens te verander, om geleenthede te skep: Die 'Ek Lewe Trust' is 'n inisiatief deur die mense van Loxton wat op 'n geenwins-basis bedryf word, ten behoewe van die kinders op ons dorp.

'n Voedingskema, leesprogramme, beter onderrig deur genoeg personeel en geriewe, spesiale projekte om leerlinge te stimuleer, motiveer en op te lei - dit is ons prioriteite.

As jy meer wil weet, klik gerus hier.